Clik here for the English version

Toer

Ek het hierdie toer saamgestel gedurende my verblyf op SANAE IV in 1999. Sedertdien was ek nog nie weer daar nie, maar ek onderhou hierdie bladsy vir die aangename herinneringe wat dit by my terugbring, en vir algemene verwysing.
Kom kuier gerus op my professionele of persoonlike webtuistes om te sien wat ek deesdae doen. Ek het instussen Antarktika weer besoek, maar in 'n heel ander kapasiteit.

Hier is 'n kort elektroniese toer deur die Antarktiese basis SANAE IV. Die konstruksie van die basis het in 1991 begin, en die eerste ekspedisie, Sanae 36, het in 1997 hier oorwinter. Vorig basisse was op die Fimbul ysbank geleë maar weens die hoë sneeuval is hulle almal onder die sneeu begrawe en ineengedruk. SANAE III is tans 35 m onder die oppervlak, en nie meer veilig vir gebruik nie. SANAE IV is 180 km van die kus af op 'n bergspits gebou wat bokant die omringende ysvlakte uitsteek. Die basis is op pale gebou, sodat die wind onderdeur die basis kan waai en sneeuopbou verhoed. Hier is 'n prentjie van SANAE IV vir algemene oriëntasie.

All die skakels op hierdie bladsy is skakels na prentjies. Gebruik jou webblaaier se 'terug' knoppie om weer op hierdie bladsy te kom.

Hier is ons nou by die voordeur van Sanae IV. Dit is in die skakel tussen blokke A en B van die basis. As jy inkom, kom jy te staan voor die vertoonkas. Net regs van die vertoonkas is die deur na die aantrekkamer. Stap in, haal jou hoed af, trek jou handskoene en stewels uit, en sit dit in die droogkas. Hang jou warm klere aan die kapstok agter jou.

Hier, net oorkant die aantrekkamer is 'n beheerkamer, waar 'n paar kontroles vir pompe en waaiers is, ons brandalarm se beheerpaneel regs teen die muur, en die telefoonsentrale.

Die skakels se vloere is hoë as die res van die gebou, omdat daar riooltenks en pype ingebou is. Stap die paar trappies af. Ons is nou uit die skakel uit, en in die gang van A-blok se onderste vloer.

Die eerste deur aan die regterkant is die radiokamer. As hierdie gebou 'n brein het, is dit hier. Ons HF-radio, satteliet-kommunikasie en interkom, telefoon, faks en VHF-radio, en internetverbinding.is hier. Geen wonder Karel is altyd so besig nie.

Net oorkant die radiokamer is die donkerkamer. Ons gebruik dit om films en foto's te ontwikkel, maar dit is noodsaaklik vir die ontwikkeling van die dokter se X-straal foto's.

Volgende deur regs is die dokter se spreekkamer. Hier is ook 'n een-bed hospitaal, met 'n X-straalkamera, en 'n tandartsstoel. Die teater is steriel, so ek kan hom nie vir julle wys nie. Ernest is ons dokter.

Hier verder af in die gang, het ons 'n klein kamertjie waar ons netwerk, netwerkdrukker en Novell lêerbediener staan. Net langsaan is die branduitgang. Om uit te kom lig 'n mens die luik in die vloer op, en gooi die touleer af. Dit is net so vyf meter tot op die grond onder die gebou. Die kamertjie word ook gebruik as 'n telefoonhokkie.

Volgende deur regs is die nat laboratorium. Hier word die rioolwater ontleed, om seker te maak alles in die rioolsuiweringsaanleg werk nog reg.

Hier is ons nou by die ander punt van die gang, aan die suidepunt van die gebou. Links is my kantoor, voor ons is die onderste (Potch) lab. Net voor die lab, links, gaan die trappe op na die boonste vloer.

Hier is my kantoor se binnekant. Aan die regterkant is 'n liaseerkabinet en 'n boekrak, links is 'n lessenaar, en voor teen die buitemuur 'n bank met my rekenaar op. Links, net agter die deur, is die deur na die pakkamer.

Dit is die binnekant van die laboratorium. Hier aan die linkerkant is my goed, die toerusting vir ANOKS en AMIGO, en regs is die rekenaars van SHARE, die HF radarprojek. Fanus is die ingenieur in beheer van die radar. Hier is ook die werksbank waar ek herstelwerk en sulke goed doen.

Kom ons gaan met hierdie stel trappe na die boonste vloer. Hier aan die bopunt van die trap is 'n luik wat uitgaan na die dak. Dit kan ook gebruik word as 'n nooduitgang. Hier is ons nou in die gang op die boonste vloer van A-blok. Agter ons is die boonste laboratorium, dié van Natal.

Hier regs sit Conrad, die man in beheer hier. Links is daar nog 'n klompie instrumente. UND bedryf ook die aurora-kameras. Die een is 'n geheelbeeldkamera, die ander 'n kleinhoekkamera. Hulle kyk deur koepels in die dak.

Die res van A-blok se boonste vloer word opgeneem deur slaapkamers en, aan die verste punt van die gang, 'n damesbadkamer en 'n mansbadkamer links, en 'n waskamer regs.

Om in B-blok te kom moet ons eers weer met die trappe afgaan na die onderste vloer toe. Net voor die waskamer is daar 'n stel trappe af, wat voor die hospitaal uitkom.

Hier staan ons nou weer voor die A/B-skakel, en kyk in die rigting van B-blok. Die deur na die aantrekkamer is na regs, en links na die kontrolekamer. Die spieël is om seker te maak jy is goed toegemaak voor jy uitgaan, en op die witbord skryf ons waarheen ons gaan en wanneer ons sal terug wees. Die deur aan die oorkant links is na 'n badkamer vir gestremdes.

Aan die ander kant van die skakel is die eetkamer, die volle wydte van die gebou. Hier is ons nou op die punt van die gang van die onderste vloer van B-blok. Die eerste plek aan die linkerkant is die kombuis, met 'n deur na die pakkamer vir potte agter die oond.. Skuins oorkant dit is die koelkamer en die vrieskas, met baie vleis in. Verder af in die gang, aan die linkerkant, is die pakkamer vir kosvoorrade.

Reg oorkant die kosstoor is een van die belangrikste kamers, die rommelkamer. Gewoonlik staan daar in die middel van die vloer 'n groot houer, waarin al die gekompakteerde rommel gepak word. Om die rommel uit te kry, lig ons die verwyderbare panele van die vloer uit, en laat sak die houer deur die gat. Die hyskraan buite tel dan die houer op en sit dit op die slee. 'n Leë houer word dan op die omgekeerde manier ingebring. Die vol houer word in die depot gebêre. Glas, metaal en kos word in dromme gesit, wat geseë en met 'n kleurkode gemerk word, en ook gedepot. Tydens die oorname word die afval op die skip gelaai, en in Suid-Afrika verwerk.

Kom ons gaan op met die trap oorkant die kombuis en kyk hoe lyk dit op die boonste vloer. Hier is ook 'n lang gang met slaapkamers aan weerskante. Hierdie 4-bed kamers word gedurende die oorname gebruik. Hier is ook die pakkamer waar ons die video's bêre. Verder aan is daar die boonste TV-kamer, waar ons skyfies vertoon, en die biblioteek. Op die verste punt van die gang is daar weer badkamers en 'n waskamer.

As ons met die noordelike trap afkom na die onderste vloer kom ons by die ontspanningsarea uit. Dit bestaan uit die onderste TV kamer, die speletjieskamer en, aan die oorkant van die gang, die kroeg.

Dit is die einde van B-blok. Die B/C skakel is dieselfde as die A/B skakel, behalwe dat daar ander historiese items in die vertoonkas is.

Op die onderste vloer in C-blok is daar, aan die linkerkant, 'n onderdelepakkamer en 'n smeermiddelstoor. Die silver kas aan die regterkant is die dieseltenk met genoeg diesel vir een dag se elektrisiteit. Aan die regterkant van die gang is die watersuiweringsaanleg, waar die rioolwater gesuiwer word voordat dit weggegooi word. Aan die ander kant van die laaste stel deure op die punt van die gang is die drie kragopwekkers, en oorkant dit, die werkswinkel.

Op die boonste vloer is ons gimnasium, die kantore van die instandhoudingsspan, 'n paar ander pakkamers, en die sauna.

Die laaste gedeelte van C-blok, aan die noordelike punt van die gebou, word opgeneem deur die helikopterloods. In die somer, tydens die oorname, staan hier twee Oryx-helikopters. In die winter parkeer ons die voertuie hier. Elke helfte van die loods het 'n oorhoofse hyskraan in, om swaar optelwerk te doen. (Aan hierdie een hang 'n slaansak.)

As ons deur die groot oproldeure gaan, kom ons op die helikopterdek uit. Van hier af kan 'n mens die pyplyn na die sneeusmelter oos van die basis sien.Die groot wit kas noordoos van die dek staan bekend as die 'radome', en huisves die antenneskottel vir ons sattelietkommunikasie. Die brug dra sy seinkabel, die rioolwater en die dieselpyplyn van die dieselbunker af.

Dit is die einde van die toer. Baie dankie vir die belangstelling. Besoek gerus ook ons amptelike webwerf vir meer inligting.

Skryf gerus vir my as daar iets fout is, of as jy meer wil weet: fskdm@yahoo.com


Daar was al Counter mense op die toer.

Geskep deur D Malan
Nuuste opdatering: 02-May-99